waar menslikheid sentraal staan

Droom · Dink · Doen

Waar idees, tegnologie en selfontdekking saamkom

Wie is ons?

By Kleinbosch is dit ons doel om leerders ten volle vir die werkswêreld toe te rus, terwyl hulle terselfdertyd hul passies, drome en talente ontdek. Ons bied 'n omvattende ervaring wat ontwikkeling op verskeie vlakke ondersteun - vandaar ons leuse: droom, dink en doen. Ons moedig leerders aan om groot te droom, stimuleer kreatiewe denke en kweek entrepreneursvaardighede. Hulle word toegerus met die nodige kennis en insig om krities en logies te besluit, kry blootstelling aan kunsmatige intelligensie (KI) en leer om planne te ontwikkel wat hul toekoms sal vorm. Laastens word hulle toegerus met praktiese vaardighede, goeie kommunikasie en die nodige lewensvaardighede om die werkswêreld met selfvertroue en sukses te betree.

By Kleinbosch vorm die plaaservaring ’n belangrike deel van elke leerder se tyd hier. Buiten die kursusse en aktiwiteite, word leerders ook ingenooi om die ritme en eenvoud van die plaaslewe te beleef. Hulle stap op die plaas, ontmoet die plaasdiere en geniet etes wat nou aansluit by dit wat op Kleinbosch verbou en gemaak word. Hulle sien hoe koeie gemelk word, hoe melk geskei word en hoe botter gemaak word. Hierdie belewenis help hulle om op ’n tasbare manier te verstaan waar kos vandaan kom en om ’n waardering te ontwikkel vir die sorg, arbeid en natuurlike prosesse wat daarmee saamgaan.

Die Afrikaanse taal en kultuur staan sentraal by Kleinbosch, sodat leerders in hul moedertaal kan groei en hul identiteit met trots kan uitleef. Die plaaslewe bied 'n unieke geleentheid om naby die natuur en landboupraktyke te leef, terwyl sportsoorte soos vlugbal, netbal, jukskei, swem en sokker vir ontspanning en samehorigheid sorg. Leerders neem deel aan opvoedkundige kursusse en word deur inspirerende sprekers verryk, terwyl die koshuise en eetsale 'n sterk gemeenskapsgees kweek. Die Afrikaanse museum hou ons taal en geskiedenis lewendig, en moderne hulpmiddels en tegnologie berei leerders deeglik voor vir die uitdagings wat in die werkswêreld op hulle wag.

Waar Afrikaans Wortel Geskiet Het

Geskiedenis van Kleinbosch

Kleinbosch is ’n historiese plaas in Daljosafat naby die Paarl. Die plaas is reeds in 1692 aan François du Toit, ’n Hugenote-vlugteling, toegeken. Eeue later sou hierdie grond ’n besondere plek in die geskiedenis van Afrikaans inneem, omdat dit verbind word met van die eerste doelbewuste pogings om Afrikaans as skryf-, lees- en onderrigtaal te vestig.

S.J. du Toit, wat in 1847 op Kleinbosch gebore is, het ’n diep liefde vir Afrikaans gehad. Saam met sy broer, D.F. du Toit, en ander taalstryders het hy onvermoeid gewerk om Afrikaans as ’n volwaardige taal te bevorder. Hulle was betrokke by die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners en die publikasie van Die Afrikaanse Patriot, die eerste Afrikaanse koerant. S.J. du Toit het ook van die eerste pogings aangewend om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Hierdie ideaal is uiteindelik in 1933 verwesenlik met die verskyning van die eerste volledige Afrikaanse Bybel.

Op Kleinbosch is die Hugenote Gedenkskool op 1 Februarie 1882 gestig. Dit word algemeen beskou as die eerste skool waar Afrikaans doelbewus as onderrigtaal gebruik is. Die datum 1882 verwys dus na die stigting en begin van die skool as onderwysinstelling. Die datum 14 Maart 1883 verwys na die amptelike opening of inwyding van die skoolgebou, wat in die ou wynkelder op De Kleyne Bosch ingerig is. Bekende Afrikaanse skrywers soos Totius en D.F. Malherbe het hul skoolopleiding hier ontvang. Vandag is Kleinbosch veel meer as net ’n plaas. Dit is ’n museum, ’n erfenisterrein en ’n lewende herinnering aan die geboorte en groei van Afrikaans as taal van onderrig, geloof, kultuur en gemeenskap.

Ontdek jou potensiaal

Kursusse

Bou 'n Besigheid

Meer Inligting

Studeer Slim

Meer Inligting

Die Vrou 2.0

Meer Inligting